Die BOTHA van in Suid Afrika kom van twee stamvaders af. Die eerste stamvader, Friedrich Both (a1), het van Duitsland af gekom, terwyl die tweede, Samuel Friedrich Bode (a2), alhoewel hy van Duitsland af gekom het, volgens oorlewering van Franse herkoms is.
Die Dertigjarige Oorlog (1618-1648) het die meeste Duitse State verarm
gelaat. As gevolg daarvan het baie Duitsers, insluitende oud-soldate,
na die Weste gegaan, aangetrek deur die rykdom van die Nederlande. Polititieke
grense het nie 'n totale skeiding veroorsaak tussen die mense wat in
grens gebiede gewoon het nie en ook was daar nie veel verskil tussen
Duits en Hollands nie. Dit was die geval met streekdialekte
van die oosterse deel van Holland en die westelike Duitse streekdialekte
met 'n sterk Saksiese invloed.
Friedrich Both is gebore op 4 Maart 1653 in Wangenheim, omtrent 8 kilometers (5 myl) noord-wes van Gotha (50.57° Breedtegraad, 10.41° Lengtegraad), in die Provinsie van Thuringia in die graafskap van Saxe-Coburg-Gotha (verwys Geskiedenis hierna).
LANDKAARTE
'n Landkaart van Duitsland volg met Thuringia uitgelig:
Duitse kaart van "German WWW Servers"Die groote van die staat Thuringia (Thüringen) is ongeveer 16 251 vierkante kilometer (6 000 vierkante myl) en die geskatte bevolking 2 684 000 mense in 1990. Die streekshoofstad is Erfurt.
'n Landkaart van Thuringia volg met Gotha uitgelig:
Duitse kaart van "German WWW Servers"Die dorp Gotha het ongeveer 50 000 inwoners en afstande van nabygeleë dorpe is:
Dorp Inwonertal Afstand Erfurt 205 400 24 km Bad Langensalza 20 400 17 km Eisenach 44 700 26 km Arnstadt 26 000 23 km
FOTO
Die grootte van die middedorp van Gotha kan gesien word uit die volgende foto:
Foto vanuit "Gotha - the Heart"
GESKIEDENIS
Die geskiedenis van Thuringia kan teruggeneem word tot 350 AD en die gebeure daarna kan hoofsaaklik in vier periodes opgedeel word.
Eerste periode - Tot ongeveer 500 AD - Die ontstaan van die historiese Thuringia
Die area se eerste inwoners, die antieke Germaanse stam van Thuringia was deur Attila die Hun verower in die tweede kwartaal van die vierde eeu en hulle is teen 500 AD bevry om hulle eie koninkryk te vestig. In 531 is hulle koning Irminfried deur die Franke verslaan en hulle koninkryk onder die Franke se mag geplaas.Tweede periode - Van 500 AD tot 1485 - Die era van sentrale beheer
Om die mag van die Franke se koning te bevestig, het hy magtiging gegee dat die gebied regeer word deur 'n reeks hertoë en grawe. Die omskakeling van Thuringia na Christendom was voltooi teen die agste eeu. Die direkte afstammelinge van die Duitse konings in die Saksiese vorstehuis het teen 1024 uitgesterf. Hulle was vervang deur Lodewyk, die Bebaarde, 'n lid van die Ludowing familie. Die Ludowings het regeer vanaf 1039 tot 1256. Na 'n oorlog wat van 1256 tot 1263 geduur het, het Hendrik III, "the Illustrious", die gebied verkry. Die regering was nou oorheers deur die Wettin vorstehuis van Sakse, wat as prinse van die Heilige Romeinse Ryk ontstaan het.Derde periode - Van 1485 tot 1918 - Die era van hertogdomme
Met die verdeling van die Wettin gronde in 1485 is die grootste gedeelte toegeken aan die Ernestine familie, wat weer op hulle beurt dit onderverdeel in kleiner hertogdomme, bv. Sakse-Coburg, Sakse-Weimar-Gotha, Sakse-Jena. Die Ernestine familie het aanhoudend die grond tussen hulle verdeel en van tyd tot tyd dit weer gekonsolideer. Van 1826 was daar vier groot hertogdomme: (1) die Groot hertogdom van Sakse-Weimar-Eisenach; (2) die hertogdom van Sakse-Altenburg; (3) die hertogdom van Sakse-Meiningen-Hildburghausen; en (4) die hertogdom van Sakse-Coburg-Gotha. 'n Landkaart van die tydvak kan verkry word van Rootsweb of kan gesien word deur op Landkaart te kliek.Vierde periode - Na 1918 - Vry of Onafhanklike Staat
Na die Duitse Rewolusie van 1918 het die grondbaronne hul gebiede laat vaar en laasgenoemde het Vry State geword. Hierdie gebiede (behalwe Coburg wat by Bavaria aangesluit het) het in 1920 saamgesmelt om die nuwe Thuringia te vorm. Vanaf 1946 tot 1990 het die area deel gevorm van Oos-Duitsland onder Sowjet beheer.
VLAG VAN THURINGIA
Die wapen van Thuringia het 'n klimmende leeu omring deur agt sterre. Die sterre simboliseer daardie gebiede wat saamgesmelt het om Thuringia in 1920 te vorm.
![]()
Grafika van "Flags of the World"
Gaan terug:
- Boontoe
- na (a1) Friedrich Both
Samuel Friedrich Bode is in 1730 in Lüneburg (53.15° Breedtegraad, 10.23° Lengtegraad), Duitsland gebore (verwys Geskiedenis hierna). Die familie het in 1766 in Hanover gebly en Samuel het toe na Amsterdam gegaan om by die HOIK aan te sluit.
Volgens oorlewering het die familie verhuis vanaf Frankryk (as Hugenote) moontlik na Holland toe en daarna na Duitsland toe. Hulle van het verander van Boudier (Frans) na Boodjee (Nederlands) na Bode (Duits) en finaal na Botha (Suid Afrika).
LANDKAARTE
'n Landkaart van Duitsland volg met Benede-Sakse ("Lower Saxony") uitgelig:
![]()
Duitse kaart van "German WWW Servers"Die grootte van die staat Benede-Sakse (Nieder Sachsen) is ongeveer 47 338 vierkante kilometer (18 296 vierkante myl) en die geskatte bevolking 7 190 000 mense in 1988. Die streekshoofstad is Hanover.
'n Landkaart van Benede-Sakse volg met Lüneburg uitgelig:
![]()
Duitse kaart van "German WWW Servers"Die dorp Lüneburg het ongeveer 65 800 inwoners en afstande van nabygeleë dorpe is:
Dorp Inwonertal Afstand Winsen 30 900 19 km Seevetal 37 900 31 km Uelzen 35 300 34 km
FOTO
Die volgende foto toon die baksteenhiuse langs die Ilmenaurivier te Lüneburg wat gedurende die voorspoedige sout era gebou is:
![]()
Foto vanuit "Lüneburg Heath"Van spesiale belang is die Soutwerke naby Lüneburg. Sout, die "Wit Goud" van die middeleeue was hier geproduseer deur die oorvloedige bronne van suiwer sout water te kook deur gebruik te maak van die hout uit die woud wat die stad omring het. Die Soutwerke het vir 1 024 jaar sout produseer en het eers in 1980 produksie gestaak.
GESKIEDENIS
Die geskiedenis van Benede-Sakse is baie dieselfde as die van Thuringia (verwys Geskiedenis hierbo) aangesien albei regeer was deur 'n reeks hertoë, as 'n gevolg van die Heilige Romeinse Ryk. Die hedendaagse Benede-Sakse het ontstaan met die samesmelting van Hanover, Brunswick, Oldenburg en Schaumburg-Lippe.
Brunswick - Voor 1919
Die area was regeer deur die Welf hertoë as die hertogdom van Brunswick-Lüneburg tot in 1635. Dit is toe verdeel tussen die kinders van graaf Frederick Ulrich en het toe die graafskap van Brunswick geword tot en met 1918. In 1919 het dit 'n Vry Staat geword.Hanover - Voor 1946
Die keurvorstedom van Hanover het ontstaan uit een van die verdelings van die huis van Brunswick-Lüneburg. In 1636 het graaf Georg sy setel Hanover gemaak nadat hy sekere vorstedomme geërf het. Die vooruitgang van Hanover is uitsluitlik toe te skryf aan die kundigheid van sy heersers. Deur die huwelik van een van die seuns aan Sophia Dorothea, George I van Engeland se enigste dogter, is 'n koppeling met die Britse adel gemaak. Alhoewel Sophia troonopvolger geword het, het sy nooit die troon bestyg nie; sy is 'n paar weke voor die tyd oorlede. Haar seun, die opvolger George Louis, het die troon bestyg as George I. Die 123 jaar verbintenis tussen Hanover en die Britse troon het toe begin. Die Britse konings het nou oor Hanover regeer deur middel van 'n aangestelde Raad.In 1814, nadat Napoleon verslaan is, is die area vergroot en ook verhoog tot 'n koninkryk. In 1837 is die verbond met Groot Brittanje verbreek aangesien die suksessiereg in Hanover nie vroulike opvolging toegelaat het as daar nog 'n manlike opvolger lewend was nie. Victoria het Hanover dus nie geërf nie, maar wel Ernst Augustus, die hertog van Cumberland. Laasgenoemde het toe na Duitsland verhuis. Met die uitbreiding van Bismark is daar 'n keuse gestel aan die koning, George V, om Pruise te ondersteun of om van die troon afstand te doen. Na 'n kort skermutseling het die koning na Frankryk gevlug en daar asiel verkry.
Vanaf 1866 tot 1945 was die gewese koninkryk van Hanover nou 'n provinsie van Pruise.
Oldenburg - Voor 1919
Hierdie was agtereenvolgens 'n graafskap, 'n hertogdom en toe 'n groot-hertogdom. Vanaf die twaalfde eeu was dit reeds 'n graafskap en van 1854 was dit op sy grootste. Die vroeë beheer was deur die familie van die Saksiese graaf Widukind. Een van die latere heersers, Christiaan van Oldenburg het koning geword van Denemarke, later van Noorweë en toe van Swede. Hy het Oldenburg aan sy broer oorgedra en sy afstammelinge het die gebied regeer.Schaumburg-Lippe - Voor 1919
Een van die kleinste graafskappe met 'n area van net 342 vierkante kilometer (132 vierkante myl). Dit was beheer vanaf 1111 deur 'n reeks Grawe tot die rewolusie van 1918.1919 - 1946
Die Vry State was deel van die Duitse Ryk onder die Weimar Konstitusie van 1919 tot in 1934 toe Hitler 'n wet deurgevoer het wat hulle van hul onafhanklikheid ontneem het.Na 1946 - Vry of Onafhanklike Staat
Benede-Sakse was eers op 1 November 1946 gestig toe die Pruisiese provinsie van Hanover saamgesmelt het met die state van Brunswick, Oldenburg en Schaumburg-Lippe.
VLAG VAN BENEDE-SAKSE
![]()
Grafika van "Flags of the World"
| Datum Laas Opdateer: | 17 Augustus 1999 |
| Datum Oorspronklik Gepubliseer: | 16 Augustus 1999 |
Kopiereg - Eerstens, die nodige erkenning word gegee vanwaar inligting verkry is. Indien enige persoon beswaar het oor die inhoud wat op hierdie bladsye aangetoon is, moet hy asseblief in verbinding tree met die skrywer. Tweedens, magtiging word verleen aan enigeen om die inligting op die bladsye te gebruik vir nie-winsgwende oogmerke.