Die vroeë geskiedenis van die twee families word hier saam op 'n redelike chronologiese grondslag behandel.
| JAAR | BESONDERHEDE |
|---|---|
| Voor 1652 | Die betekenis van BOTH(A). Die naam Both is afgelei van die Friesiese naam "Botho" (of Bote) wat leier of bevelgewer beteken. Die "a" wat volg beteken ook seun van. Die volle van beteken dan ook dat Botha die seun is van Both, die leier of bevelgewer. Verwys Afrikaanse Familiename, "South African Surnames" onder Boeke Nagevors. |
| 1653 | Friedrich Both (FB) is op 4 Maart 1653 in Wangenheim in die Provinsie van Thuringia in Duitsland gebore. Die gegewens van sy ouers kan gekry word onder "Voorouers". |
| 1678 | FB sluit aan by die HOIK en arriveer aan die Kaap as soldaat in 1678. |
| 1683 | In 1683, vyf jaar na sy aankoms, verkry FB burgerregte en beoefen sy oorspronklike beroep uit as 'n landbouer by verskillende boere as 'n bywoner, of soos hy dit gestel het, sy "gedoente" was toe "landbouer bij den een en den ander geweest te sijn". Maria Kickers kom as weesmeisie vanaf Holland in die Kaap aan en trou op 11 Julie 1683 met Jan Cornelisz. |
| 1686 | Vanaf 1686 is FB bywoner by Jan Cornelisz (ook bekend as Jan Bombam en moontlik ook Jan Cornelisz Olivier) waar hy "oom voor een vierde part met hem te zaaijen en te bouwen". Hierdie is dus die oudste voorbeeld van die Franse "métairie" stelsel wat in Suid-Afrika toegepas is. Hierdie métairie-stelsel is afkomstig van die leen- of pagstelsel wat waarskynlik deur die Romeine in Galilië ingevoer is (Colonus partiarius). Métayer uit medietatarium, van medietate, helfte, beteken oorspronklik: Hy wat om die helfte boer; dan setbaas op 'n plaas, klein boer, wat ons amper in Afrikaans kan vertaal met bywoner; métairie, die plaas self. Per JLM Franken - "Die Franse Vlugtelinge, Huisgenoot" 16 Julie 1926. |
| 1689 | FB het die plaas Zandberg, wat later die naam Scholtzenhof gekry het, in 1689 uitgelê en dié het oorspronklik 64 morg beslaan. In 1694 is Zandberg van leningsplaas oorgedra op sy naam. Die plaas met sy strooidakhuis en sy wolfentgewels lê aan die regterkant op die pad tussen Stellenbosch en Somerset-Wes en die ligging word mooi aangetoon op die kaart van die kontrei. Daar word huidiglik wyn op die plaas produseer en die eienaar het ook 'n web werf en staan bekend as "Ken Forrester Vineyards".
![]() Die ou opstal is oorspronklik in 'n T-vorm gebou en die voorste mure is vandag nog omtrent 'n meter dik wat waarskynlik deur FB self gebou is. Die huis het pragtige geelhoutplafonne met 'n brandsolder van klei van 'n voet dik bokant hulle. Later jare is die huis vergroot na 'n H-vorm en onlangs restoureer deur die argitek, G. Osler. |
| 1692 tot 1699 |
In 1692 teken FB sy van nog as Both, maar in 1699 teken hy as Botha. In die "opgaafrolle" kom die spelling Both, Boot en Botha voor.![]() Uit Die Groot Afrikaanse Familienaamboek onder Boeke Nagevors. Aan die Kaap het dit soms voorgekom dat 'n persoon vernoem word na die plek vanwaar hy kom. So was Jan van Eeden eers Jan van Oldenburg, Nicolaas Janse van Rensburg was eers Nicolaas Jansz. Die feit dat Friedrich Both van Gotha kom, kon moontlik daartoe bygedra het dat Friedrich Both van Gotha verander het tot Friedrich Botha. Geneem uit Suid-Afrikaanse Geslagsregisters onder Boeke Nagevors. |
| 1700 | Aan die begin van die 1700's was veeboerdery die algemene bedryf van die meeste boere. Die vader het gewoonlik op 'n besondere plaas geboer en soos sy seuns hubare ouderdom bereik het, het hy vir hulle 'n aantal vee gegee. Waar die vader op die plaas aangebly het kan hy dus as 'n "Veeboer" geklassifiseer word. Die seuns moes nou weiding vir hulle eie vee soek en het dan verder in die "onbekende" ingetrek. Hulle kan dus as "Trekboere" geklassifiseer word.
Die rigting van die trek was gewoonlik waar daar genoegsame water en weiding was. Die resultaat was dus 'n trek in 'n oostelike rigting langs die kus van Suid Afrika. Die trekbeweging het tot 'n einde gekom toe die trekboere die inheemse bevolking van die Oos Kaap ontmoet het, die Xhosa. Die tydvak is nie vasgestel nie, maar 'n aanduiding van die trek is ongeveer: 1652-1700 Migrasie beperk tot die omgewing van Kaapstad; 1735 Bereik Mosselbaai; 1744 Bereik Gamtoosrivier |
| 1700 tot 1706 |
Al die FB kinders word in die Doopregisters aangegee as kinders van Jan Cornelisz en Maria Kickers. By die egskeiding word die volgende aangegee (per JLM Franken - "Die Franse Vlugtelinge, Huisgenoot" 16 Julie 1926, voetnota):
Jan Cornelisz van Oudbeijerland in cas van divortie contra Maria Kickers: "den eijscher, doende eijsch bij monde alsoo de gedaagdese haar niet en schaamd hem eijr niet alleen met slaan en stooten ende verdere onbetaemelijckheeden gestadig te bejeegenen, maar oock bovendien haren echt met de persoon van frederick Boot in overspel te buitjen te gaan . . . . " "De gedaagdese antwoordende, segt en bekendt alle hare kinderen, staande huwelijk niet bij den eijr haren man (vermits desselvs onbequaamheijdt) maar bij een ander; te weeten den voorn. fred. Boot, te hebben geprocrëeert; en dat haren man haar daar toe selfs aanleijding soude hebben gegeeven." (Crim. en Civ. 1689-1701, 22 Jan. 1700, p. 77) Fred. Botha en Maria Kickers word vir oorspel, aanhouding en verberging van vee, geweld aan persoon van Claas Das, tien jaar verban na Mauritius. Hul moet "separatelijk" gebanne bly en word verder veroordeel tot 100 Rds. boete en restitusie van aangehoue goedere (Crim. en Civ. 1701-'08, 16 Nov. 1706. f.47). Die periode van verbanning mag dalk verskil aangesien daar ook die volgende aangegee word (per HCV Leibbrandt - "Precis of the Archives, Journal of VD Stel" 16 November 1706): The Court of Justice sentences a freeman and a woman in a criminal case to banishment to Mauritius for two years and fines each Rds. 100, the half for the Landdrost and the half for the Court.In 1706 het FB "aan't Moddergat" gebly saam met Maria Kickers wat toe by Matthys Greef op Stellenbosch gewerk het. |
| 1710 tot 1714 |
In 1710 word die leningsplaas "Eendracht" op die naam van Theunis Botha, FB se oudste seun, geregistreer. Die plaas was gesetel in die suidelike deel van die "Land van Waveren" oor die Breede Rivier onder die Witsenberg en langs Jan Stevensz Botma. Vandag se plasing is tussen die Breede Rivier Stasie en die Waaihoek Berge. In 1712 trou Maria, Theunis se jonger suster, met Coenraad Scheepers, wat net noord op die plaas "De Liefde" geboer het. In 1714 word die 64 morg 482 vk. roede leningsplaas op Theunis naam oorgedra en word dit as 'n veeplaas bedryf. |
| 1717 | FB op 64 jarige ouderdom trou op 21 Junie 1717 met Maria Kickers, 'n weesmeisie uit Nederland en geskeie vrou van Jan Cornelisz. |
| 1730 | Samuel Friedrich Bode (SFB) is in 1730 te Lüneburg in Duitsland gebore. |
| 1735 | Die "Trekboere" bereik Mosselbaai |
| 1737 | In 1737 word "Eendracht" oorgeplaas na Theunis se oudste seun, Christoffel. Laasgenoemde het het druiwestokke ingelê en ook 'n wynkelder begin. Met Christoffel se afsterwe in 1764 is die plaas verkoop aan Johannes Albertus Myburgh. |
| 1744 | Die "Trekboere" bereik die Gamtoosrivier |
| 1745 | Die regering wat in Kaapstad gesetel was het nie die trekbeweging van sy mense goedgekeur nie, maar wou beheer oor hulle behou en het dus gedurig die amptelike grense van sy gebied verskuif: 1745 Groot Brakrivier; 1771 Gamtoosrivier; 1775 Groot Visrivier - die grens van die Xhosa gebied. |
| 1766 | SFB het gedurende hierdie jaar die Hanover Regiment "Schwarze Hussaren" verlaat na 'n moontlike ernstige onderonsie met 'n kameraad en na Nederland gegaan om sy dienste aan die HOIK aan te bied as matroos. SFB het aan boord die "Noord Beverland" die eiland Texel verlaat op Kersdag 1766 op pad na Colombo in Ceylon (nou Sri Lanka). |
| 1767 | Die "Noord Beverland" arriveer in die Kaap op 23 Maart 1767 met 54 siek mense, dit nadat 27 reeds ter see gesterf het. Die siekes is aan wal gesit en die boot het sy reis op 9 April na Colombo voortgesit en arriveer daar op 28 Junie 1767 nadat 'n verdere 35 persone ter see gesterf het. Van die siekes wat in Tafelbaai aan wal gesit is, was ene "Fredrik Boode van Lunenbourgh" (SFB) en na sy herstel is hy toegelaat om aan die Kaap aan te bly in diens van die HOIK. |
| 1771 | Kaapse grens offisieel Gamtoosrivier |
| 1774 | Bo en behalwe die dienste as soldaat, het die regering aan die Kaap verwag dat die soldate ook die burgerry moet help. So is dit dan dat SFB op 18 November 1774 aan Hans Mohr vir 36 Gulde plus kos en verblyf verhuur word as skrynwerker vir 'n periode van een jaar. |
| 1775 | Kaapse grens offisieel Groot Visrivier |
| 1775 | SFB doen op 12 Desember 1775 formeel aansoek vir die verkryging van burgerregte en dit word ook so goedgekeur en sy naam verskyn op die lys van persone aan wie burgerregte toegestaan is aan die einde van daardie jaar.
Soos in die geval van FB (Friedrich Both) het die uitspraak van SFB (Samuel Friedrich Bode) se van in die Kaapse "dialek" seker daartoe bygedra dat die naam ook verander het van Bode na Botha. |
| 1776 | SFB trou op 21 Januarie 1776 met Anna Elisabeth Delport en die huweliksregister toon aan "Samuel Fredrik BOTHA". |
| 1815 | Die Slagtersnek-Rebellie se hoofaanloop was die gepoogde arrestasie van Freek Bezuidenhout, na 'n klag van minagting van die hof, wat noodlottig geëindig het. Dit het op 10 Oktober 1815 gebeur. Sy familie het wraak gesweer. Deur 'n sameloop van omstandighede is 'n groot deel van die kommando wat op die been gebring om die burgers te beskerm teen 'n moontlike Xhosa inval, waarvan niks gekom nie, oorreed om die rebellie te ondersteun. Die rebelle het hulle aan die regeringsmagte op 18 November oorgegee.
Dr. Heese se boek "Slagtersnek en sy mense" is geskryf uit 'n baie objektiewe oogpunt en graag word die volgende daaruit aangehaal (p.90): Geskiedskrywers en ander het in die mense van Slagtersnek, na gelang van hul sienswyse, óf helde óf skurke gesien. Vir my het hulle bloot mense van vlees en bloed geword - mense net soos ons, mense met ambisies en mense met swakhede. Daar was dapperes onder hulle, maar ook papbroeke en grootpraters, bloeddorstiges en grapmakers. Saam het hulle 'n stukkie bewoë geskiedenis gemaak.Die Bothas by die rebelle was:
|
| 1836 | Groot Trek - 'n groot hoeveelheid boeke is reeds oor die onderwerp geskryf, asook oor die redes vir die trek na die binneland. Ter opsomming kan gesê word dat die soeke na weiding ook 'n groot aandeel gehad het in die trek agtergrond, bo en behalwe die sosio-politiese faktore waaroor geskryf is.
Die lys van Bothas wat aan hierdie epiese trek deelgeneem het kan gekry word onder "Voortrekkers". |
| 1864 tot 1902 |
Tot die begin van die twintigste eeu was die metode van vervoer óf deur ossewa óf deur perdekar. Indien 'n mens verhuis het, was dit 'n lang en moeisame proses. Kommunikasie was ook nie veel beter nie.
'n Hubare jong man wat op soek is na 'n lewensmaat sal nie verder as 'n dag se ry te perd soek nie. Sy toekomsmaat sal verseker uit die naburige omgewing kom en hulle sal dan alleenlik verhuis om beter weiding te soek. Dit het alles verander met die koms van Spoorweë na Suid Afrika. Die eerste spoorlyn het in Kaapstad begin en teen 1902 was die meeste groot stede en dorpe met mekaar verbind. Mense kon nou baie makliker en vinniger beweeg en sonder die moeisaamheid van 'n ossewa of perdekar. |
| 1874 tot 1905 en ook |
Daar was 5 hoof trekke na en deur die sogenaamde Dorsland en na hulle is verwys as die "Dorsland trekke". Hierdie trekke het hoofsaaklik na Namibië en Angola gegaan. Een van hierdie trekke (die derde) was onder leiding van Jacobus Frederik Botha en hy is ook later aangewys as die Landdros en Kommandant van die nedersetting te Humpata. Meer hieroor kan verkry word in die boek "Afrikaners in die Vreemde". 'n Volledige lys van Dorsland trekkers word aangegee in "Voortrekkers van Suidwes - Bylae A". Verwys Boeke Nagevors.
Die Portugese owerheid het die opleiding van kinders in Afrikaans afgekeur en in 1928 het daar tussen 1800 en 1900 siele na Namibië verhuis hoofsaaklik as gevolg van die ongelukkigheid oor die taalkwessie. Volgens Klaus Dierks in sy boek Chronology of Namibian History het daar 1842 families in Augustus 1928 na Namibië verhuis. |
| 1891 tot 1905 |
Zimbabwiese Trekke - Daar was tien trekke na die destydse Suid-Rhodesië en tot dusver kan daar nie Botha name verkry word wat aan daardie trekke deelgeneem het nie. Daar het wel heelparty Bothas na hierdie landsdeel verhuis, maar hulle het as individue soontoe gegaan. |
| 1902 tot 1905 |
Argentinië Trekke - Daar was hoofsaaklik drie trekke na die deel en ook hier kan 'n Botha nie opgespoor word nie. Die oorgrote meerderheid van die trekkers het in 1937 en in 1938 teruggekeer na Suid-Afrika toe. |
| Datum Laas Opdateer: | 12 Desember 2000 |
| Datum Oorspronklik Gepubliseer: | 15 Augustus 1999 |
Kopiereg - Eerstens, die nodige erkenning word gegee vanwaar inligting verkry is. Indien enige persoon beswaar het oor die inhoud wat op hierdie bladsye aangetoon is, moet hy asseblief in verbinding tree met die skrywer. Tweedens, magtiging word verleen aan enigeen om die inligting op die bladsye te gebruik vir nie-winsgwende oogmerke.