home.gif (2506 bytes)

lirieke.gif (3182 bytes)

downloads.gif (2842 bytes)

gigs.bmp (5578 bytes)

pressr.gif (4556 bytes)

links.gif (2894 bytes)

Home Lirieke CD's Gigs Press Links

 


Chutney de Ridder skryf in Die Burger oor rock bands by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, Maart 2002.

"Goue sterre aan noordelike bands op KKNK"


Feesbaniere wapper halfstok en gehawend, geskeurde aanplakbiljette met varkore hang verbleik aan posbusse, winkelvensters en mure, leë bierblikke en halfgeëte worsbroodjies peul uit oorvol vullisblikke - nog 'n Klein Karoo Nasionale Kunstefees het op Oudtshoorn sy alie gesien.

Ek het die laaste rooi stof van my uitgetrapte Doc Martins afgeborsel net voordat julle hierdie woorde begin lees het.

Feesvoos, vuisvoos en verrinneweer deur die onherbergsame Karoo-son leun ek terug in my gunsteling-leunstoel. Wat het ek vanjaar wysgeraak by waarskynlik die funkyste kerkbasaar op ons planeet? Laat ek bietjie dink.

1. Die Kaapse musiektoneel is 'n rigtinglose slaapwandelaar vergeleke met die goedgeslypte stormtroepe uit Pretoria en Johannesburg.

2. Die deursnee-Afrikaner is verknog aan luisterliedjiekunstenaars - dit neem obsessiewe afmetings aan.

3. Moenie 'n Afrikaanse kunstenaar op sy baadjie (of sy skoene!) takseer nie.

4. Bier vir ontbyt is NIE 'n goeie gedagte nie - dit maak nie saak of Johnny Cash in 'n stadium so gesing het nie.

My standplaas vanjaar was die Tassenberg-Stalteater. Dis hier waar ek in 'n kwessie van 'n week agt vertonings per dag gesien het. Dis hier waar ek tot die gevolgtrekking gekom het dat die Kaapse musiektoneel 'n drastiese inspuiting nodig het, want dit is vaal in vergelyking met die kleurryke spulletjie uit die noorde.

Hoogtepunt sonder twyfel: die Brixton Moord en Roof Orkes. Dis nie 'n blaasorkes nie, en die orkes het niks met die polisie te doen nie - hulle rock in Afrikaans met lirieke wat jou hare laat rys. Spergebied is hul debuut-CD - koop dit op sig.

Hoogtepunt nommer twee: Riku Latti as solo-kunstenaar, maar ook as duo saam met Jean (eks-Duusman). Nogmaals 'n noordelike lig wat skyn, nogmaals puik lirieke aangevoer deur Riku se akoestiese kitaar en Jean se saxofoon.

Goue sterre aan Diff-olie vir hul gatskop-attitude, Wouter van de Venter vir sy treffende vertolkings, Scicoustic vir sy aansteeklike energie en Battery 9 - omdat hy dit verdien. En dis almal bands uit die noorde!

Die Kaapse musiektoneel? Ai tog. Waar is die nuwe bands, mense? Daar is tog 'n klomp talent en goeie rolmodelle: Valiant Swart, Delta Blue, Spinnekop en Akkedis, om enkeles te noem.

Waar is die mense wat luister na die briljante Sons of Trout (een van die beste uitvoerings in die Stalteater vanjaar!) en besluit dat dit hul kreatiewe snare tokkel?

Ek wag in spanning, maar in dié stadium is dit 1-0 vir Gauteng.

Luisterliedjie-kunstenaars net waar jy kyk op die fees. Op elke hoek en draai kraai een en die mense drom saam. Toegegee, smaak verskil. Maar ek kan nie verstaan hoekom mense sou wou luister na 'n kunstenaar wat met niks besonders vorendag kom nie, geen waarde tot die plaaslike musiekbedryf toevoeg nie.

Ja, en dan het ons die Steve Hofmeyr-moleste. Niemand is verhewe bo kritiek nie, Steve. En selfs al was van die kritiek onregverdig ('n persoonlike mening), dink ek nie geweld is die manier om jou ontevredenheid uit te druk nie.

Ja, joernaliste kom met moord weg. Die geskrewe woord is 'n magtige wapen en moet oordeelkundig gebruik word, maar ons het genoeg geweld in dié mooi land; ons soek nie nog nie.

Drank het, soos gewoonlik, gevloei. Seker jou keuse as jy op 15 al slingerende op 'n vreemde dorp wil wees. Dis net skrikwekkend om te sien hoe die dronkies optree en watter twak hulle kwytraak. Dit was 'n verleentheid.

So ja, my KKNK-wasgoed is uitgehang. Tot 'n volgende keer.

 

Vorige artikel...

Terug na "Wat sê die Media..."

Volgende artikel...

Mail die Brixton Moord & Roof Orkes

Home

Brixton Moord Roof Pat

CD's

Lirieke

Gigs

Press

Links