home.gif (2506 bytes)

lirieke.gif (3182 bytes)

downloads.gif (2842 bytes)

gigs.bmp (5578 bytes)

pressr.gif (4556 bytes)

links.gif (2894 bytes)

Home Lirieke CD's Gigs Press Links

 


Die volgende artikel kom uit die Beeld van 27 Desember 2000. 'n Weergawe daarvan was ook in Die Burger se "Joernaal" gepubliseer:

"Orkes laat Brixton voortleef" 

Die bekende Brixtonse moord-en-roofeenheid van die polisie maak eersdaags toe. Hoewel die gange en selle waarskynlik dan net skimme sal huisves, sal die naam van die eenheid "voortleef" in die satiriese folk-"orkes" wat in die Johannesburgse woonbuurt Brixton wortel geskiet het. Pieter van Zyl het met die manne gesels.

"Ons  sal  maar  hul  stemme  laat  voortpraat," lag Ockert (Moord) Greeff, die man op "tromme en brandewyn" in die Brixton Moord & Roof-Orkes (BMR).

Oor die beplande sluiting van die suksesvolle en omstrede polisie-eenheid met dieselfde naam skerts Greeff, wat ook sy eie reklameonderneming het: "Dit is vir ons baie snaaks dat die eenheid óns naamgenoot is."

Supt. Tinie van der Linden, waarnemende bevelvoerder van die Brixtonse moord-en-roofeenheid, het self nog nooit die groep hoor sing nie, maar skerts op sy beurt: "As ons dan wel toemaak, sal ons daai ouens huur om (by die afskeid) te kom speel."

Die Brixtonse moord-en-roofeenheid het die afgelope 35 jaar 'n heilige ontsag by misdadigers ingeboesem, maar was ook omstrede weens gerugte van marteling en ernstige menseregteskendings wat voorheen agter die rooi baksteenmure plaasgevind het.

Puik ondersoekwerk deur die eenheid het onder meer gelei tot die inhegtenisneming en vonnis van die grootste reeksmoordenaar in Suid-Afrika se misdaadgeskiedenis, die Wemmerpan-reeksmoordenaar, Cedric Maake.

Komm. Jackie Selebi, polisiehoof, het onlangs aangekondig dat die eenheid se deure gaan sluit as deel van 'n herskikkingsprogram vir spesialiseenhede van die polisie.

Oudbevelvoerders van die eenheid het hul ongeloof en skok uitgespreek oor die "verskriklike fout" om die eenheid te sluit.

"Soms weet 'n mens nie vir wie jy die bangste moet wees nie - die polisie of die misdadigers," is 'n geliefde sêding van Andries (Roof) Bezuidenhout, die man op "lead vocals" en die liriekeskrywer van die BMR-orkes.

"Ons almal in die band was al slagoffers van misdaad in Brixton," vertel Greeff. "Ons het gedink die naam sal lekker klink vir ons band." Maar dit was nie uit "samehorigheid en bewondering" dat hulle die naam van die eenheid vir hul orkes gekies het nie.

Die naam "Brixton-moord-en-roof"' is volgens hulle as kinders by hulle "ingedril" - in hul grootwordjare het dit snags by hulle gespook toe die TV-program Police File hulle "uit verveeldheid" vasgenael laat sit het voor die kassie.

Insp. Mary Martins-Engelbrecht, polisiewoordvoerder wat die groep al in die TV-musiekprogram Geraas gehoor het, sê die boodskap van hul musiek is "orraait", maar sy is bekommerd mense verbind die groep met die polisie. "Dit kan sommige mense afsit."

Die woonbuurt Brixton is nou al geruime tyd die lede van die groep se vastrap- en lêplek. Bezuidenhout vat die geskiedkundige ruggraat van die woongebied in 'n neutedop saam: "Dis hier waar genl. Smuts se magte die stakers in 1922 'n gevoelige hou toegedien het. Maar die game was nie fair nie - Smuts het vliegtuie gehad."

Greeff en Bezuidenhout het einde verlede jaar besluit om lekker Afrikaanse musiek te begin maak as 'n "ode" aan die woonbuurt.

"Die band se roots is in Brixton, Johannesburg.

"Ons hou van die plek oor die kreatiwiteit wat 'n mens in dié woonbuurt sonder 'n enkele boom kry, oor die mense van verskillende klasse en kulture en tale wat hier woon, oor die love-hate-verhouding wat ons almal met ons gemeenskap het," sê Bezuidenhout.

In Brixton Dae dig Bezuidenhout só oor die plek:

"Hoor die seine van die Brixtontoring
Volg die ritme van die honde wat blaf
Bingo in Highstraat, junkies wat lag
Maar ons sit tevrede by die Abelarde en wag . . .

Hoor die sirenes van een nul trippel een
Hoor die skote in Westbury klap
Die sente van 'n bedelaar, die rande van 'n pusher
Koop nie die vrede wat ons almal voor wag . . "

Bezuidenhoudt is 'n navorser in sosiologie aan die Universiteit van die Witwatersrand. "Dit is hier waar lefties en stokregses saamwoon, meestal in vrede," verduidelilk hy sy bande met Brixton.

Die "Ingelsman", Steve (Brixton ) Savage, die man op "baskitaar, mondfluitjie en backing vocals", het later sy "soutie"-stem bygevoeg.

Hy moes maar tevrede wees met sy naam in die orkes ("Brixton"). Bezuidenhout het toe reeds die naam "Roof" gekies, omdat die ander opsie - "Moord" - té erg was vir hom.

Maar Greeff is heel tevrede om onder dié bloeddorstige naam in die groep bekend te staan. Hy vertel hy het 'n veghond. "Maar die feit dat my hond se naam Kaptein is, het ook niks te doen met die keuse van ons band se naam nie."

Die manne het al almal misdaad aan die lyf gevoel. Greeff was vanjaar 'n slagoffer van 'n gewapende roof in Brixton. "Hulle breek so kwartaalliks in by my."

Bezuidenhout se motor is voor sy huis gesteel, maar is later deur die "spietkops" voor die Abelard Sanction, 'n drinkplek naby sy huis, gekry.

By Savage is al twee keer ingebreek. "Elke keer vat hulle dit wat hulle voorheen nie weggedra het nie." Savage is 'n geoloog wat ook sy eie ateljee tuis het om musiek op te neem. "Die rekenaar met ons songs op is ook nou die dag uit my huis gesteel," sug hy.

In hul enigste Engelse lied, City of Gold and Guns, maak Bezuidenhout die stem dik oor misdaad:
". . . Gun in your back,
A knife to your throat
Suburb or township
We're all in the same boat
Blame it on apartheid . . .

In the city of gold and guns
Of Gold and Guns."

En nou maak die Brixtonse moord-en-roof-eenheid toe. "Ons moet maar sien of dit 'n verskil gaan maak aan die misdaadsituasie," sê Greeff. Anders as wat in polisiekringe gemeen word, weet hy nie of misdaad nou ewe skielik daar die hoogte gaan inskiet nie.

Die sluiting van die eenheid hang volgens Van der Linden soos 'n swaard oor die koppe van die speurders daar.

Intussen speel die BMR-orkes nog mense se litte los in Brixton en hoop om die een of ander tyd hul musikale filosofie op CD te kry vir hul aanhangers.

 

Vorige artikel...

Terug na "Wat sê die Media..."

Volgende artikel...

Mail die Brixton Moord & Roof Orkes

Home

Brixton Moord Roof Pat

CD's

Lirieke

Gigs

Press

Links