home.gif (2506 bytes)

lirieke.gif (3182 bytes)

downloads.gif (2842 bytes)

gigs.bmp (5578 bytes)

pressr.gif (4556 bytes)

links.gif (2894 bytes)

Home Lirieke CD's Gigs Press Links

 

Angola Badprop se onderhoud met die Brixton Moord & Roof Orkes in JIP, Mei 2002. 

"Joburg is 'n spergebied"

Deur Angola Badprop

Dis koud in Johannesburg, want winter is in die pos. En wanneer dit koud raak in Joburg, is dit vir niemand 'n lekker plek om te wees nie.

Ek kry die vier bebaarde manne waar hulle in die Bohemian, Richmond, sit en gesels oor hulle nuwe CD wat uit is, Joburg as 'n spergebied en die "local bar in Brixton waar jy nog drank op krediet kon koop".

Die Brixton Moord-en-Roof Orkes trotseer Johannesburg se scene al drie jaar. Hulle is lankal nie meer laaities wat in die skadu's van Brixton se Abelarde Sanction wegkruip nie. Wel, eintlik kan hulle nie meer nie, want die Abelarde het so 'n maand of wat gelede sy deure finaal gesluit, krediet by die bar of te nié.

Band sonder 'n huis? Nee wat, want plekke soos die KKNK, Oppikoppi en ander feeste is deesdae hulle speelplek. Hulle spog selfs met 'n nuwe kitaarspeler - Kapelaan Pat Plank - wat saam met Brixton Barnard, die baskitaarspeler, deel uitmaak van die Afrikaanse punk-band Plank.

Dan is daar ook nog hul debuutalbum "Spergebied" waar hulle sing oor normale dinge wat in Joburg gebeur, soos oorlog, misdaad, drank en road rage.

"Ons werk tans aan 'n nuwe song genaamd 'Kleurvolle tradisie'," vertel Roof Bezuidenhout, voorsanger van die groep. "Dit gaan oor 'n ou wat 'n toaster na die shopping centre vat om gefix te word en dan loop hy homself vas in 'n klomp tradisionele dansers."

"Jy verstaan dit beter as ek," lag Brixton, die ou wat eintlik hierdie song geskryf het.

Die band het van 'n baie sterk folk-rock en akoestiese vibe beweeg na iets wat seker maar as bietjie harder rock geklassifiseer kan word. Jy kry hulle rustige donker songs soos "Asyn" en "Geraamtes in jou kas", maar dan is daar ook harder goed soos "Geen Land" en "Road Rage".

"Ek sou sê ons het mettertyd beide harder én sagter geraak," reken Moord Greeff, tromspeler van die groep en iemand wat ook sommige van die songs skryf.

As jy hom vra om die musiek wat hulle maak te beskryf?

"Ek weet nooit wat om vir mense te sê nie," lag Moord. Roof som dit beter op: "As jy hou van Koos of Valiant se musiek, behoort jy ons tunes ook te like. Mense het ook al gesê ons is rock poets."

Hul debuutalbum, "Spergebied", is tans op die rakke en volgens die groep verwys dit "uit en uit" na Johannesburg.

"Kyk net na al die doringdraad in dié plek," reken Roof. Volgens hom het baie van hulle songs "daai sper-tema wat Joburg nou maar net het".

En ons dans tussen soekligte en doringdraad
Drink en juid tot die daeraad
Pille vir depressie, wyn vir die pyn
Ons hoop op vrede, maar ons wag op die kaptein...

Vir die groep is die hele ding van 'n eerste CD "nog maar moeilik, veral omdat die shops dit nie altyd aanhou nie". Daarom is hulle besig om te werk aan 'n tweede album wat so teen einde van hierdie jaar moet begin vorm aanneem.

Nietemin groei die naam Brixton geweldig, selfs al is mense "bang vir die plek", soos Pat sê. Ironies genoeg het veral die RAU studente begin om die ouens by die KKNK te ontdek, terwyl hulle nog altyd op die studente se doorstep opgetree het.

"Ons vind dit egter net snaaks," reken Brixton, "dat iemand wat al 'n miljoen rand gewen het op Big Brother by ons kom sigarette bum backstage!"

Al vier lag hard en bestel dan nog 'n bier. 

 

'n Vroeër onderhoud deur Angola Badprop met Roof, ook in JIP, Oktober 2001.


"Liefde, Padwoede en Misdaad in Brixton."

Angola Badprop praat met Andries Bezuidenhout van die Brixton Moord- en Roof Orkes.

Brixton. Vier-uur op 'n Woensdagmiddag voor die Abelarde Sanction. Hy's toe. Die groot man met die lang hare, die baard en die stywe swart denim kom by die straat afgestap. Hy het 'n T-hemp aan met die Abelarde Sanction se naam daar op. Sy selfoon lui. "Agge nee man," hoor ek hom sê. Hy bere die selfoon en sug.
"Nou sal jy maar vir my moet interview," sê hy met 'n groot smile.
Ek besef daar het nóg 'n band member uitgechicken en ek point vir hom oor die straat na waar die swart diefwering toegesluit staan.
"Die bar is toe," sê ek.
"Dis snaaks. Dan doen ons dit sommer by my huis. Dis daai een daar."

Dis nou Andries Bezuidenhout, die 'Roof' van die Brixton Moord- en Roof Orkes, beter bekend as die voorsanger.
Ockert 'Moord' Greeff en Drikus 'Brixton' Barnard is die twee wat dié trio moet volmaak, maar vandag wegkruip met ander verpligtinge as die band. Roof het ook ander verpligtinge, want hy is eintlik iemand wat "in sy ander lewe werk met vakbonde". Maar nie vandag nie. Hy stap kombuis toe en gaan haal 'n halwe bottel rooiwyn, een van verskeie oop en halfvol bottels in die kombuis wat sy huismaat daar laat staan.
"Vakbonde is baie interessant," begin hy my vertel oor sy regte werk. "Mense het al in die 1930's oor vakbonde gesing op die wysie van 'Wat maak Oom Kallie daar', en vadag sien jy Afrikaanse tannies sing op Cosatu tunes. Dis nice as mense nie so verskriklik op ras fokus nie."
Die band, soos mense hom nou ken, is al so 'n bietjie meer as twee jaar aan die gang. Die ouens het al vanjaar Aardklop én Oppikoppi stormgeloop en selfs hier en daar hul verskyning op TV gemaak. Die tyd is verby vir Brixton se ondergrondse bands om ondergronds te bly.

Die band het 'n sterk polisieklankie in sy naam, maar eintlik is die manne myle verwyder van die ouens in blou.
"Kyk waarvoor het Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band in die 80's gestaan. Dit was 'n tyd wat mense vasgeskop het teen die kerk. Selfs Koos het lirieke gehad soos 'ver van die NG se tempels'. Daai tyd is verby. Ons sing eerder oor goed wat ons raak soos misdaad en polisie. Maar baie tongue in cheek."
Volgens Roof, "like die band dit as mense hulle naam verkeerd verstaan."
"Ons wou een keer in Bloemfontein gaan optree," vertel hy. "Ek het vir die vrou wat dié goed reël gesê wie ons is, maar toe dog sy ons is die polisie se dansorkes wat in die klub wil kom optree. Toe keer sy darem lekker vir haar wickets. Ons hét toe daar gaan speel en toe's sy in vir 'n groot surprise."
Die band is nie harde rock nie, maar het ook nie bly stilstaan by die folk wat Andries annvanklik op sy eie gedoen het nie. Dis 'n groep wat die rustiger middle of the road vibe gevang het, en hier en daar miskien 'n harde kitaarklankie sal ingooi as hulle hard wil praat. Dit hang maar net af van wat die manne wil sê, wanneer hulle dit wil sê en hóé hulle dit wil sê.
"Ons sing oor oorlog, misdaad, drank en road rage," vertel Roof. "En ons het een love song ook. Maar ons is tans besig om te werk aan 'n lekker omstrede pornografiese song met die naam 'Sussie se sweep.' Dit gaan oor die drome van 'n boervrou op Sannieshof. Ons het dit in die kar op pad Aardklop toe geskryf."
Dit alles terwyl die manne hulself glad nie as omstrede beskou nie. Behalwe as jý hulle as omstrede beskou, dan is hulle maar seker. En hulle het absoluut niks teen Sannieshof nie, hoor. Inteendeel, volgens Roof het hulle al een van hulle beste gigs daar gehad.
"Die bar se naam was Oppiestasie. Die mense daar is amazing en hulle kén die scene. Dis die eerste plek waar mense gedreig het om ons te bliksem as ons ophou speel. Kort daarna was ons in Schweizer-Reneke, maar dis soos iets uit 'n David Lynch fliek. Alles waarvoor jy bang is."

Roof het geen saak waarheen hulle die band musiekgewys heen vat nie. In die ander twee se afwesigheid vertel hy meer hou van die mellow deel van musiekmaak, maar nie bang is om hard te gaan nie. "Ek luister enige iets van Battery 9 tot Leonard Cohen," vertel hy. "Moord het een aand vir my gesê hy gaan die band baie harder maak, en dis hoekom ons songs skryf soos 'Road Rage' en 'Sussie se sweep'. 'n Band moet tog full on kan gaan én melancholies en melodies kan wees terselfdetyd. Jy móét variasie hê, anders is jy boring."

Roof is 'n ou wat gek is oor die Briels. Dis geen se'praais nie. Hy het immers 'n paar jaar gelede 'n verkyning op TV gemaak saam met Koos Kombuis om 'n weergawe te doen van 'Die Trein na Pretoria', waarop altwee teen die einde luidkeels uitgebars het van die lag. Volgens hom is die Suid-Afrikaanse groep saam met wie hy die graagste sal wil collaborate Die Grafsteensangers.
"Ek het hulle al gebel," sê hy, "Maar hulle manager wou niks weet nie want sy het nog nooit van ons gehoor nie."

Dit raak laatmiddag en Brixton se skaduwees word langer. Roof kyk af in die straat voor sy huis.
"Hey, die Abelarde is oop," sê hy. "Kom ons gaan drink 'n bier, ek het 'n rekening daar..."  
 

Vorige artikel...
Terug na "Wat sê die Media..."
Volgende artikel...

Mail die Brixton Moord & Roof Orkes

Home

Brixton Moord Roof Pat

CD's

Lirieke

Gigs

Press

Links