"Joburg is 'n
spergebied"
Deur Angola Badprop
Dis koud in Johannesburg, want
winter is in die pos. En wanneer dit koud raak in Joburg, is dit vir
niemand 'n lekker plek om te wees nie.
Ek kry die vier bebaarde manne waar
hulle in die Bohemian, Richmond, sit en gesels oor hulle nuwe CD wat uit
is, Joburg as 'n spergebied en die "local bar in Brixton waar jy
nog drank op krediet kon koop".
Die Brixton Moord-en-Roof Orkes
trotseer Johannesburg se scene al drie jaar. Hulle is lankal nie meer
laaities wat in die skadu's van Brixton se Abelarde Sanction wegkruip
nie. Wel, eintlik kan hulle nie meer nie, want die Abelarde het so 'n
maand of wat gelede sy deure finaal gesluit, krediet by die bar of te
nié.
Band sonder 'n huis? Nee wat, want
plekke soos die KKNK, Oppikoppi en ander feeste is deesdae hulle
speelplek. Hulle spog selfs met 'n nuwe kitaarspeler - Kapelaan Pat
Plank - wat saam met Brixton Barnard, die baskitaarspeler, deel uitmaak
van die Afrikaanse punk-band Plank.
Dan is daar ook nog hul debuutalbum
"Spergebied" waar hulle sing oor normale dinge wat in Joburg
gebeur, soos oorlog, misdaad, drank en road rage.
"Ons werk tans aan 'n nuwe
song genaamd 'Kleurvolle tradisie'," vertel Roof Bezuidenhout,
voorsanger van die groep. "Dit gaan oor 'n ou wat 'n toaster na die
shopping centre vat om gefix te word en dan loop hy homself vas in 'n
klomp tradisionele dansers."
"Jy verstaan dit beter as
ek," lag Brixton, die ou wat eintlik hierdie song geskryf het.
Die band het van 'n baie sterk
folk-rock en akoestiese vibe beweeg na iets wat seker maar as bietjie
harder rock geklassifiseer kan word. Jy kry hulle rustige donker songs
soos "Asyn" en "Geraamtes in jou kas", maar dan is
daar ook harder goed soos "Geen Land" en "Road
Rage".
"Ek sou sê ons het mettertyd
beide harder én sagter geraak," reken Moord Greeff, tromspeler van
die groep en iemand wat ook sommige van die songs skryf.
As jy hom vra om die musiek wat
hulle maak te beskryf?
"Ek weet nooit wat om vir
mense te sê nie," lag Moord. Roof som dit beter op: "As jy
hou van Koos of Valiant se musiek, behoort jy ons tunes ook te like.
Mense het ook al gesê ons is rock poets."
Hul debuutalbum,
"Spergebied", is tans op die rakke en volgens die groep verwys
dit "uit en uit" na Johannesburg.
"Kyk net na al die doringdraad
in dié plek," reken Roof. Volgens hom het baie van hulle songs
"daai sper-tema wat Joburg nou maar net het".
En ons dans tussen soekligte en
doringdraad
Drink en juid tot die daeraad
Pille vir depressie, wyn vir die pyn
Ons hoop op vrede, maar ons wag op die kaptein...
Vir die groep is die hele ding van
'n eerste CD "nog maar moeilik, veral omdat die shops dit nie altyd
aanhou nie". Daarom is hulle besig om te werk aan 'n tweede album
wat so teen einde van hierdie jaar moet begin vorm aanneem.
Nietemin groei die naam Brixton
geweldig, selfs al is mense "bang vir die plek", soos Pat sê.
Ironies genoeg het veral die RAU studente begin om die ouens by die KKNK
te ontdek, terwyl hulle nog altyd op die studente se doorstep opgetree
het.
"Ons vind dit egter net
snaaks," reken Brixton, "dat iemand wat al 'n miljoen rand
gewen het op Big Brother by ons kom sigarette bum backstage!"
Al vier lag hard en bestel dan nog
'n bier.