"Afrikaanse rock: Die mag
van die kitaar!"
Die vraag is nie waar alles begin
het nie. Veel eerder waarheen is dit nou, meer as 'n dekade later, op
pad...
Wie sal in elk geval kan sê waar
die Afrikaanse musiekrevolusie begin het (of moet ons liewer sê die
musiekrevolusie in Afrikaans?).
Feit: 'n Handlie vol pioniers -
destyds die sogenaamde "alternatiewes" - het die saadjie
geplant waaruit 'n Afrikaanse musiekbeweging weg van die
luisterliedjie-hoofstroom gegroei het. Feit: "Antimusiek" was
nie al rede hierdie revolusie nie; die politieke agenda - dikwels
onveskuil - het net so swaar geweeg.
Maar dit was lank gelede, in 1987,
toe Afrikaanse musiek voëlvry verklaar is deur ouens soos André
Letoit, Johannes Kerkorrel en (Dagga-) Dirk Uys, name wat daardie tyd 'n
"wegbreekaksie" gesuggureer het; 'n rebelse streep in die
"Afrikaner" ontbloot het. (Letoit is immers 'n anagram vir
toilet, Kerkorrel steek draak met 'n bastion in die Afrikanergemeenskap,
terwyl "Dagga-Dirk" nie veel aan die establishment se
verbeelding oorgelaat het nie).
Dis die jaar 2001 en die pioniers
is steeds met ons. Maar die "alternatiewe skeldnaam" wat soos
'n meulsteen om die Afrikaanse musiekbedryf se nek gehang het, het lank
reeds verdwyn.
"Ons moes eenvoudig die etiket
heg aan die musiek van die dag," verduidelik Uys van Trippy Grape
Records en die nuutgestigde Boereplaas Plate, spesifiek gemik op
Afrikaanse rock.
"'Alternatief' was 'n gelade
term, 'n omstrede een wat Groot Krokodille en sulke diertjies ontstig
het. Ons het die Frankenstein ge-create met die spesifieke doel om 'n
nuwe orde in Afrikaanse musiek tot stand te bring, maar ook om
Afrikaanssprekendes wakker te skud, 'n wake-up call wat gemik was op die
jeug, die studente, want dis waar die fondament vir die toekomstige
Afrikaanse rock vóór Februarie 1990 gelê is."
Uys reken die eerste ordentlike
Afrikaanse musiekgolf sedert die omstrede Voëlvrytoer se dae spoel nou
weer.
In die oorgangstyd ná die
"alternatiewe" Afrikaanse rock was daar verkeie fakkeldraers
wat die vlam van vernuwing laat brand het: Valiant Swart, Koos Kombuis,
Anton Goosen, Piet Botha, Battery 9 en selfs David Kramer, om enkeles te
noem.
Hierdie strydosse het die weg gewys
wat jong groepe sou volg. Hulle was die bakens van hoop vir
tienderjariges wat tussen 1990 en die nuwe eeu op die skoolbanke planne
sit en beraam het om Afrikaanse rockmusiek te maak.
Uys verduidelik: "Afrikaanse
rock is op die oomblik die sterkste en snelgroeiendste genre op die
musiektoneel. Die hoeveelheid jong Afrikaanssprekendes wat groepe op die
been bring, is verbasend. Die kitaar is inderdaad magtiger as die
swaard."
Die groepe se fokus het wel in die
meeste gevalle verskuif van politieke kwessies en sosiale kommentaar,
maar dis 'n goeie ding en seker te verstane. Deesdae se knelpunte strek
veel wyer as apartheid se tentakels.
Sê Uys: "Die issues vandag is
meer 'wollerig' - hoë misdaadsyfers, korrupsie, werkloosheid en
landsverlaters. En ofskoon ek daai 'skop in die ballas' van die
pre-1990-lirieke mis, sing groepe vandag oor persoonlike uitdagings en
probleme, alledaagse geod wat elkeen van ons raak.
'n Tekort aan nuwe Afrikaanse
rockers is daar gewis nie. Die standaard wat genoemde Valiant, Koos,
Paul Riekert en Kie. met musiek en liriek gestel het, was en is steeds
hoog. Hierdie hardebaarde, ofskoon deesdae dikwels op die agtergrond en
dalk minder woedend as die natneuse in die bedryf, is steeds
teenwoordig.
Vra enige jong groep wat hulle
geïnspireer het en hierdie name duik maar telkens op.
Die Afrikaanse musiekgolf kry al
hoe meer momentum danksy die goeie ondersteuning by dinamiese feeste
landwyd - Kaktus op die Vlaktes by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees,
die Aardklopfees by Potchefstroom, Oppikoppi in Pretoria, die Tassenberg
Stalteater.
Dis hier waar Afrikaans sy vlerke
sprei in rock, pop, folk, hip-hop, punk en selfs boeremusiek. Dis hier
waar mens hoor van groepe soos Brasse Vannie Kaap, Beeskraal, Karen
Zoid, Spinnekop, die Brixton Moord en Roof Orkes, Plank, Akkedis,
Diff-olie, Gramadoelas, Duusman.
Hierdie is die nuwe generasie
musikante wat Afrikaans as vervoermiddel inspan. Hierdie is die mense
wat nie 'n politieke vaandel vir Afrikaans wil rondswaai nie, maar bloot
sing, rap, skree en speel in 'n taal wat buite die benoude dampkring van
'n sogenaamde "bedreigde spesie" nuwe lewe in Afrikaans blaas.
Die Frankenstein waarna Uys verwys
het, daardie "alternatiewe monster", het inderdaad kinders
gebaar wat die hartklop en die siel van Afrikaanse musiek
verteenwoordig.
Deesdae kan ons dans op die maat
van 'n nuwe, lewendige ritme. So, laat ons na BVK se raad luister:
"Sit jou hande op, terwyl die beat klop, sit jou hande op, sit dit
op, sit dit op..."