home.gif (2506 bytes)

lirieke.gif (3182 bytes)

downloads.gif (2842 bytes)

gigs.bmp (5578 bytes)

pressr.gif (4556 bytes)

links.gif (2894 bytes)

Home Lirieke CD's Gigs Press Links

 

Pieter Redelinghuys se resensie van "Spergebied" in Insig en 'n onderhoud met Roof, Junie 2002.


PLAASLIKE CD’s deur Pieter Redelinghuys
Spergebied deur die Brixton Moord en Roof Orkes

Hoor die sirenes van een nul trippel een / hoor die skote in Westbury klap / die sente van ‘n bedelaar, die rande van ‘n pusher / koop nie die vrede wat ons almal voor wag... want soos al die dae, al die dae / soos al die dae was vandag maar kak...

Só sing Roof Bezuidenhout op “Brixton Dae”, een van twaalf snitte op die Brixton Moord en Roof Orkes se treffende debuut-CD, “Spergebied”.

Daar is volop verwysings na lewe in die stad – misdadigers, padvarke, drank- en dwelmlustiges, geldwolwe en sukkelaars skuur skouers en kry lewe op snitte soos “Geen Land”, “Road Rage”, “Dronk op jou eie”, “As die yuppies jodel” en “Sewe rand vir die maand”.

BMRO se rock het egter sy voete geplant is sterk folk-elemente. Dis op enkele snitte waar die angry rockdraak sy vuur spuug (vernaam “Road Rage”). Die res is akoesties van aard en dus sag genoeg om met oorgawe na BMRO se priemende lirieke te luister.

“Spergebied” is ‘n knap debuut, ondanks die feit dat dit situasies en plekke skets wat plattelanders en diegene buite die geteisterde grense van Egoli dalk vreemd of onbekend sal vind.

Die aggressie sou meer woema gehad het met ‘n elektriese kitaar in die groep (wat ná hierdie opname wel gestalte gekry het in die vorm van Pat Plank). Die vooruitsig laat ‘n mens uitsien na BMRO se opvolg-CD, want Afrikaanse rock het liriekskrywers soos hierdie nodig.

Fokus op ‘n kunstenaar:
BRIXTON MOORD EN ROOF ORKES

deur Pieter Redelinghuys

As ons die Lotto wen, sê Andries “Roof” Bezuidenhout, koop ons ‘n bus, toer landwyd en maak voltyds musiek. Totdat dit gebeur, voeg hy by as die lagbui bedaar, sal ons maar ons day jobs behou en speel waar ons kan.

Ek spoor die voorsanger en kitaarspeler van die opwindende Brixton Moord en Roof Orkes by sy blyplek in die einste Brixton op en pols hom oor hul debuut-CD, Spergebied (resensie hiernaas), die oplewing in Afrikaanse musiek, cool Afrikaners en lirieke oor “alledaagse dinge” soos misdaad en padwoede.

“As jy deesdae van Afrikaanse musiek hou, het jy met jou gat in die botter geval,” begin Roof. “Daar is soveel keuses, goeie gehalte, uiteenlopende style – van pop tot rock, van industrieël tot eksperimenteel... van Kobus! tot Valiant Swart. Jy kan nie kla nie.”

Roof reken dat die nuwe golf van jong groepe nou eers begin lyk kry. BMRO is een van hulle. Wat was die reaksie sover?

“Oorweldigend positief. Ons het by Kaktus op die Vlaktes voor duisende mense gespeel. Ons lirieke en musiek is gekomplimenteer,” verduidelik hy.  Die “ons” in BMRO is Roof, Brixton Barnanrd (baskitaar), Moord Greeff (tromme) en Kapelaan Pat Plank (leierkitaar).

Die groep sing oor goed soos padwoede, misdaad en die lewe in die stad (spesifiek in die skaduwêreld van Brixton). Maak dit nie BMRO se lirieke swaar of eksklusief nie?

“Man, dis universele issues daardie. Ons almal deal daarmee, of jy nou in Brixton of op Sannieshof bly. Ons skryf oor goed waarmee ons te doen kry, daardie dae waarop alles verkeerd loop.

“Party mense deal met die trauma deur te luister na kunstenaars wat ‘Meisie, meisie’ sing, ander hou van lirieke wat situasies soos dié met ‘n tikkie ironie benader.

“Ons sal nooit hoofstroom wees nie en ons gaan nie compromise en ligter lirieke skryf nie. Daar is baie Afrikaners wat hulle self met ons situasie kan vereenselwig en baie cool kunstenaars wat ernsiger lirieke inspan. Kyk maar na Karen Zoid, sy is die queen van urban Afrikaner-cool.”

Die toekoms? “Daar is genoeg songs vir nog twee CD’s. Ons het seks as tema gekies, songs soos ‘Sussie se sweep’ gaan oor bondage. Tot dan sal ons toer, Wes-Kaap toe ook. Ons moet net êrens tussen ons day jobs ‘n langnaweek vind!”

 

Pieter Redelinghuys skryf oor Afrikaanse rock in Insig, Desember 2001.

Foto: Sally Shorkend

"Afrikaanse rock: Die mag van die kitaar!"

Die vraag is nie waar alles begin het nie. Veel eerder waarheen is dit nou, meer as 'n dekade later, op pad...

Wie sal in elk geval kan sê waar die Afrikaanse musiekrevolusie begin het (of moet ons liewer sê die musiekrevolusie in Afrikaans?).

Feit: 'n Handlie vol pioniers - destyds die sogenaamde "alternatiewes" - het die saadjie geplant waaruit 'n Afrikaanse musiekbeweging weg van die luisterliedjie-hoofstroom gegroei het. Feit: "Antimusiek" was nie al rede hierdie revolusie nie; die politieke agenda - dikwels onveskuil - het net so swaar geweeg.

Maar dit was lank gelede, in 1987, toe Afrikaanse musiek voëlvry verklaar is deur ouens soos André Letoit, Johannes Kerkorrel en (Dagga-) Dirk Uys, name wat daardie tyd 'n "wegbreekaksie" gesuggureer het; 'n rebelse streep in die "Afrikaner" ontbloot het. (Letoit is immers 'n anagram vir toilet, Kerkorrel steek draak met 'n bastion in die Afrikanergemeenskap, terwyl "Dagga-Dirk" nie veel aan die establishment se verbeelding oorgelaat het nie).

Dis die jaar 2001 en die pioniers is steeds met ons. Maar die "alternatiewe skeldnaam" wat soos 'n meulsteen om die Afrikaanse musiekbedryf se nek gehang het, het lank reeds verdwyn.

"Ons moes eenvoudig die etiket heg aan die musiek van die dag," verduidelik Uys van Trippy Grape Records en die nuutgestigde Boereplaas Plate, spesifiek gemik op Afrikaanse rock.

"'Alternatief' was 'n gelade term, 'n omstrede een wat Groot Krokodille en sulke diertjies ontstig het. Ons het die Frankenstein ge-create met die spesifieke doel om 'n nuwe orde in Afrikaanse musiek tot stand te bring, maar ook om Afrikaanssprekendes wakker te skud, 'n wake-up call wat gemik was op die jeug, die studente, want dis waar die fondament vir die toekomstige Afrikaanse rock vóór Februarie 1990 gelê is."

Uys reken die eerste ordentlike Afrikaanse musiekgolf sedert die omstrede Voëlvrytoer se dae spoel nou weer.

In die oorgangstyd ná die "alternatiewe" Afrikaanse rock was daar verkeie fakkeldraers wat die vlam van vernuwing laat brand het: Valiant Swart, Koos Kombuis, Anton Goosen, Piet Botha, Battery 9 en selfs David Kramer, om enkeles te noem.

Hierdie strydosse het die weg gewys wat jong groepe sou volg. Hulle was die bakens van hoop vir tienderjariges wat tussen 1990 en die nuwe eeu op die skoolbanke planne sit en beraam het om Afrikaanse rockmusiek te maak.

Uys verduidelik: "Afrikaanse rock is op die oomblik die sterkste en snelgroeiendste genre op die musiektoneel. Die hoeveelheid jong Afrikaanssprekendes wat groepe op die been bring, is verbasend. Die kitaar is inderdaad magtiger as die swaard."

Die groepe se fokus het wel in die meeste gevalle verskuif van politieke kwessies en sosiale kommentaar, maar dis 'n goeie ding en seker te verstane. Deesdae se knelpunte strek veel wyer as apartheid se tentakels.

Sê Uys: "Die issues vandag is meer 'wollerig' - hoë misdaadsyfers, korrupsie, werkloosheid en landsverlaters. En ofskoon ek daai 'skop in die ballas' van die pre-1990-lirieke mis, sing groepe vandag oor persoonlike uitdagings en probleme, alledaagse geod wat elkeen van ons raak.

'n Tekort aan nuwe Afrikaanse rockers is daar gewis nie. Die standaard wat genoemde Valiant, Koos, Paul Riekert en Kie. met musiek en liriek gestel het, was en is steeds hoog. Hierdie hardebaarde, ofskoon deesdae dikwels op die agtergrond en dalk minder woedend as die natneuse in die bedryf, is steeds teenwoordig.

Vra enige jong groep wat hulle geïnspireer het en hierdie name duik maar telkens op.

Die Afrikaanse musiekgolf kry al hoe meer momentum danksy die goeie ondersteuning by dinamiese feeste landwyd - Kaktus op die Vlaktes by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, die Aardklopfees by Potchefstroom, Oppikoppi in Pretoria, die Tassenberg Stalteater.

Dis hier waar Afrikaans sy vlerke sprei in rock, pop, folk, hip-hop, punk en selfs boeremusiek. Dis hier waar mens hoor van groepe soos Brasse Vannie Kaap, Beeskraal, Karen Zoid, Spinnekop, die Brixton Moord en Roof Orkes, Plank, Akkedis, Diff-olie, Gramadoelas, Duusman.

Hierdie is die nuwe generasie musikante wat Afrikaans as vervoermiddel inspan. Hierdie is die mense wat nie 'n politieke vaandel vir Afrikaans wil rondswaai nie, maar bloot sing, rap, skree en speel in 'n taal wat buite die benoude dampkring van 'n sogenaamde "bedreigde spesie" nuwe lewe in Afrikaans blaas.

Die Frankenstein waarna Uys verwys het, daardie "alternatiewe monster", het inderdaad kinders gebaar wat die hartklop en die siel van Afrikaanse musiek verteenwoordig.

Deesdae kan ons dans op die maat van 'n nuwe, lewendige ritme. So, laat ons na BVK se raad luister: "Sit jou hande op, terwyl die beat klop, sit jou hande op, sit dit op, sit dit op..."
  

Die artikel bespreek Akkedis, Spinnekop, Diff-olie, Plank en die Brixton Moord & Roof Orkes as voorbeelde van die nuwe bands. Hierdie is die gedeelte oor die Brixton Moord & Roof Orkes:

BRIXTON MOORD EN ROOF ORKES

Lede: Andries "Roof" Bezuidenhout (stem, kitaar), Ockert "Moord" Greeff (tromme), Drikus "Brixton" Barnard (baskitaar). CD's: "Ons wil voor einde 2001 in CD uit hê. Daar is mense wat ons wil opneem."

Die Brixton Moord en Roof Orkes het twee jaar gelede "as 'n grap" begin musiek maak. Wel, die naam was 'n grap, nes Kerkorrel s'n destyds, verduidelik Andries. "Nou as ons bel om 'n gig te bespreek, vra die mense of ons die polisie se blaasorkes is..." In elk geval, alles het in die kuierplek Abelarde Sanction in Brixton begin: dis waar die drie mekaar "gevind" het.

En nou het die BMRO reeds 'n Oppikoppi-musiekfees agter die blad en toer verwoed. Ek spoor juis vir Andries op pas ná die groep se optrede in Sannieshof en 'n plek genaamd Bullets in Schweizer-Reneke.

"Ironiese naam? Ja, nogals, nè," lag die bebaarde voorsanger. "Maar jy sal verbaas wees oor hoe baie cool mense op die platteland Afrikaanse rock ondersteun. Sulke randfigure wat in enige David-Lynch-movie sal pas."

Is dit wat BMRO maak: rock? "Wel, akoesties-elektries eintlik, folk-rock as dit moet. Ons is lugtig vir politieke issues - kommentaar hoort by dominees en politici. Ons wil eerder onsself en ander vermaak. En alles met die tong in die kies - ons Afrikaners lag te min vir onsself."

Na watter songs kan 'n mens uitsien? Die liedjie vir expats, "Geen Land"; die liefdesliedjie "Wit wolke"; en die vanselfsprekende "Road Rage". Ander treffertitels is "Goud in my brandewyn en Coke", "Sewe rand vir die maand" en "Tou".

Vorige artikel...
Terug na "Wat sê die Media..."
Volgende artikel...

Mail die Brixton Moord & Roof Orkes

Home

Brixton Moord Roof Pat

CD's

Lirieke

Gigs

Press

Links